Ek sal maklik ‘n gedig kon skryf óf ‘n kortverhaal, selfs ‘n roman 
met 50 dinge wat ek en jy saam kon doen, saam… jy as my…man

Is
Jy die dierbaar wat op my sal wag 
vir wie ek elke dag wil opstaan 
met die aller mooiste glimlag?

Is
Jy die een wat my kan vashou
en al die seer laat verdwyn,
my pyn onder die son se blink laat skyn?

Is 
Jy die man vir wie ek die res van my lewe wil bystaan
en is jy die man hier langs my onder die volmaan?

Waar is my Heuningspruitbrug?
Waar is al die plate vol sonskyn?

Blink rol weer sag oor haar wang
en sy wens sy kon haar bang 
met ‘n reënboog en sonskyn vervang

Sy loop in ‘n doolhof van donker
voel voel vir nóg ‘n deur
haar asem kort en haar hart seer
dan volg ’n gedagte van gister 
wat so haar hede beheer

Waar is hy,
dié Haydn in C Majeur ? 

So staan ek dan op om weer te probeer
ek stik my hartspier vas 
elke keer moet ek hom self heg
self weer in my borskas vas las
met die hoop op vernuwing en iemand
wat reg in hierdie gat in my borskas sal pas

Hier sit ons dan
oud en jonk 
saam onder een magiese dak van fyn ontwerp 
binne die raamwerk van SY groot plan

Viool, Tjello, ‘n bas en klawerspel
so sit sy veilig tussen oud en jonk
omring met klassieke klanke van sag struik
en goud in die môrestond.


dorettepotgieter ©