Vooropgestel

Dis Saterdag en die wintermiddagson brand die leefkamer. Langsaan het die polisie kom ingryp waar liefde in twis ontaard het. “wat gaan aan?”, vra ek die sekuriteitswag soos ek kruideniersware uit my geleende voertuig haal. “no” sê die man met ‘n aksent van êrens uit Afrika, “his girlfriend took money from him and so he called the police to come and help him”, “vreemd” sê ek, “the poor man is crying”.

Hoe dan dat mense nie meer die mag besit om dinge uit te praat nie. Wat het geword van die sogenaamde liefde wat dié twee siele in die eerste plek verenig het? Hoe ook al sy, die arme man lyk moeg en strompel snikkend verby my.

My pakkies is swaar in my hande en trek my rug skeef, al met die trappe op na die tweede vloer waar ‘n leë woonstel op my wag. Ek het twee sleutels in my hand, die een vir die voordeur en die ander een het my geheue ontvlug en hang nou net as irritasie saam.
Laas nag se onrustigheid hang steeds in die bedompige slaapkamer. Die twee langsaan skree nou op mekaar en die polisieman is stil. So pak ek dan die kruideniersware in die kaste op die maat van konfrontasie gemeet aan die ritmiese rusie as geroesemoes van hier langsaan.

Ek voel hoe my eie stukkend en seer soos opdryfsels in ‘n ou glas rooiwyn na boontoe kom en aan my sielsvensters van binne af begin knaag.
Hoe dan dat ek nie net gister kan vergeet en voor my kyk nie?
Ek skraap toe genoeg selfrespek bymekaar en lui Hom wat my wakker hou. Die Hy wat vir ‘n paar rand sy siel aan die nag verkoop. Hy wat altyd net so voor my oë sal verdwyn. Die Hy wat nie vernader nie. “Hey” sê die Hy en ek weet hy is veilig en ok, maar waar los dit my, ‘n gedagte wat skiet deur my kop en ek voel hoe die kamermure my begin druk. “Als reg daar” vra ek Hom en met ‘n “Ja net lui voor die TV” verstaan ek hom en ons lui af.

My asem is alweer op en my trane oppad na bo, met die wete dis als amper verby. Dan vloei alles uit en rol saggies by my gloeiende wange af oor my gesig wat op ‘n knop trek en ek besef die bure is nou tjoep stil.
So vervang ek die geroesemoes met Jou wat sing op die kasettespeelertjie in die kitchenette…“Die vrees het uit jou vel verskyn…steeds maak jy jou reëls, want jy’s aangestel, voor jou oë is alles verby, net jou spoor het oor gebly, hemel op aarde, die son in die see, selfs jou skepe gee nou mee, voor jou oë is alles verby.” Hy wat net ‘n bietjie alleen wil wees en sy eie ding doen…

Die kombuis het vir my ‘n glas rooiwyn geskink en ek weet jy weet ek dink ek weet. Ek weet jy dink jy weet, maar jy weet niks. Niks weet jy, jy wat weet.
Niks weet wat jy weet, weet jy. - Niks.


dorettepotgieter ©