About the Author:
Claudia Höpfner
Claudia Höpfner

Place of Birth: Volksrust
Date of Birth: 27/06/1976
 

Other Literary works:

Afrikaans:
O Nee, Hel, Ek Weet nie
Road Trip
Die Einde

English:
Born in a Storm
Chilli Bretzels with Blue Cheese
Making Love to a Keyboard
 



DIE EINDE
(SHAZA)


y het met moeite op die agtersitplek van ons blou Jetta geklim. Jy was sò swak. En toe julle wegry, het ek geweet ek gaan jou nooit weer sien nie,

‘n Uur later volg die oproep en die nuus. Niks kan jou red nie. Net die genadedood.

Ek roep vir Tessa - die produk van jou verhouding met ons Botswana bure se brak - en ons gaan sit op die stoep. Terwyl ek oor Tessa se gladde vel streel raak ek sommer van vooraf hartseer en Tessa vang die trane met haar nat tong op.

Ons kyk oor die amper-groen grasperk, oor die tuinmuur na die oop veld, waar ons naweke gaan stap het. Ek onthou hoe jy soms weggeraak het in die lang gras, omdat jy nie altyd kon byhou nie. En hoe ons gespot het, dat ek en jy dieselfde talent vir sport het – altyd laaste. En dat ons jou moes gaan haal, omdat jou half-dowe ore nie kon bepaal uit watter rigting ons jou naam roep nie.

Ek mis jou lomp lyf. Maar ek sal nooit vergeet hoe jy soms met ‘n kinderlike opgewondenheid kon opspring en hardloop. Sodat ons kon lag vir jou en die ‘te-baie-lippe’ wat heen en weer skud, namate jy vinniger geword het.

Mense het geskrik vir jou. En was bang. Soos toe ons vir jou die hele pad vanaf Windhoek na Pretoria gekarwei het. Ook op die agtersitplek van ons Jetta. Destyds was dit nog die wit een. Petroljoggies het met lang uitgestrekte arms by die tenk probeer bykom, terwyl hulle eintlik donker velle bleek was van angs. Ons het stilletjies geglimlag. Die ouens by die grens het nie eers in die ‘cross-border-permits’ belanggestel nie. Jy was werklik yslik groot. ‘n Bielie van ‘n bul. Maar jou hart piepklein.

Daar was dae waar ek die moer in was vir jou. Soos as jy sommer net teen die potplant in die sitkamer gepiepie het. Of as jou lang slymerige speeksel (wat amper tot by vloer gehang het) orals op die blink vloer gedrup het. En elke keer teen alles opgevlieg en vasgeplak het, as jy besluit het, dat dit tyd is om jou kop te skud. En wat my tot waansin gedryf het, is wanneer ek vir jou UIT gesê het en jy in die teenoorgestelde rigting begin draf het.

Nee, kom terug. Hierdie kant toe.

Ek mis jou stoutighede. Ek wens jy kon vir net nog een keer die sproeier van die tuinslang skelm stukkend kou.

Jy was mal oor die swembad se geborrel. Ons het jou soms dopgehou hoe jy langs die swembad staan en jou kop so skuins draai, sodra die Kreepy Krauly begin suig het.

Elke nou en dan het ons in die middel van die nag wakker geword deur jou en Tessa se ‘Song for the Moon’. Julle het sò lank aangehou, totdat een van julle wakkergeskrik het. En dan het ons het giggelend omgedraai en weer aan die slaap geraak. Jou ‘ek-wil-innie-huis-kom-seblief’ deuntjie voor ons slaapkamervenster was genoeg om enige iemand se hart te smelt. En jou ‘ek-wil-met-jou-speel-seblief’ blaffie het jou hardwerkende baas in ‘n baljarende kleuter verander.

Jy was presies 9 jaar, 1 maand en 4 dae oud. Vir 7 jaar lank was jy deel van ons lewens.

‘n Opreg geteelde Bull Mastiff (met ‘n stamboom wat skrik vir niks – Loxodontan Bevan was u edele se naam) in ‘n doodgewone huis.

En nou moes ons sò skielik afskeid neem.

© Honne-se-nonna (Claudia Höpfner) – 20 September 2005