About the Author:
Chris Smal
Chris Smal

Place of Birth: Pretoria
Date of Birth: 22/01/1972
 

Other Literary works:

Afrikaans:
Die Einde
Die Nuwe Wêreld
Hoe?

English:
Farewell
It's All About Choice
Survival of the Fittest



HOE?


is asof die son te vinning sak. My oë is nog oop maar dis pikdonker. Ek voel dit oor my kop sak. Dit kom tot rus op my sleutelbene en skuif dan op tot teen my nek. My gedagtes loop weg met my.

Ek en Stephan het besluit om Thailand toe te gaan vir vakansie. Ons het by almal gehoor dat dit so mooi en lekker en goedkoop is. Op die vliegtuig het ons te veel gedrink en met ‘n moerse babelaas, gerieflik verkeerd gediagnoseer as “jet lag”, in Bangkok aangeland. Alles het glad verloop tot by die hotel. Ons het ons eerste en laaste aand se verblyf in die hotel as deel van die pakket gekry.

Om mee te begin het ons ses ure lank geslaap soos dooies. Toe ons wakker word was dit al skemer. Stephan was op soos ‘n ontploffing. “Komaan, ons het net twee aande hier onthou!” Toe ek nie onmiddelik reageer nie, het hy stappe geneem. Die koue bierbottel uit die mini bar teen my arm het my kiertsregop gebring, vinniger as wat die oog kon sien. Ek het my ontevredenheid in grafiese subgordel taal gemompel terwyl Stephan homself geskeur het. ‘n Vinnige blik op die pryslys het bevestig dat die drank uit die mini bar ondrinkbaar duur was.

Buite was dit baie goedkoper, en ten spyte van die jet lag het ons nie teruggehou nie. Die drank het vrylik gevloei, die meisies was oorvriendelik en ons was op vakansie. Die klerk by die ontvangstoonbank het ons duidelik laat verstaan dat dit teen die hotel se beleid is om prostitute daarheen te bring. Ek het dit van my rug af laat loop asof ek ‘n watervoël was.

Ek het nooit gedink ek sal in my wildste drome eers oorweeg om van ‘n hoer se dienste gebruik te maak nie. Maar hoe later hoe kwater. Die meisies se Engels was beperk tot vulgere voorstelle wat herhaaldelik gepaard gegaan het met betasting. Die streling van die manlike ego, bierbrille en jet lag het saamgespan om my verdediging te verslaan.

Toe ek weer my oë uitvee het ‘n meisie wat skaars 15 gelyk het op my skoot gesit. Sy het gevroetel tussen my bene en ten spyte van die surrealistiese gehalte van die oomblik het ek ‘n woeling in my lende bespeur. Ek het halfhartig gekeer en verward rondgekyk om te kyk wie sien my. Die hele kroeg was vol soortgelyke paartjies in soortgelyke omhelsings. Daar was net een uitsondering. Stephan het twee meisies gehad wat aan hom hang. Toe hy my sien het hy sy hand onder die een se rompie uitgetrek en met ‘n breë glimlag beide duime na bo gelig. Ek het my kop geskud maar hy het syne agteroor gegooi en ‘n kreet van vreugde met die wêreld gedeel.

Skielik het ek naar gevoel. Ek het die dogtertjie effens te rof van my skoot af gestoot. Sy het tevergeefs geprotesteer, “You no like me, I give you suckee suckee please!” Toe ek haar weer wegdruk het sy bygevoeg, “I give best fuckee fuckee, vely vely tight. I love you long time big man.” Ek het opgestaan en probeer om Stephan se aandag te kry. Hy was so besig met die twee werkers dat ek opgegee het. My kinderprostituut het aan my hemp gehang en steeds gunsies beloof. Ek moès eenvoudig daar uitkom. In die straat het ek my losgeskud uit haar greep en weggeloop.

Ek het eers oorweeg om terug te gaan vir Stephan, maar daarteen besluit. Ek het genoeg gehad. Ten spyte van my lus en dronkenskap kon ek dit nie oor my hart kry nie. Die meisies was jonger as my sussie, en as iemand haar moes probeer bykom sou ek waarskynlik met bebloede hande opeindig. Ek het ook besef dat die naarheid nie net daarvan gekom het nie. Al die gedrink, min slaap op die vliegtuig en reis oor tydsones het eindelik te veel geraak vir my.

Ek het die pad gevat terug hotel toe. Daar aangekom het twee aaklige verassings op my gewag. Toe ek die voorportaal betree het ek ingedagte in my sakke gevoel. Stephan het die fokken sleutel gehad! Ek het my omstandighede verduidelik aan die klerk en hom gevra vir ‘n spaarsleutel. Hy het my aangekyk asof hy iets wil sê maar eindelik die kaartjie oorhandig. Hy het nog steeds ‘n frons gehad toe ek dit by hom gevat en weggedraai het.

Die tweede verassing het die eerste soos ‘n verjaardaggeskenk laat lyk. Toe ek om die draai in die gang kom net voor ons kamer, het hulle vir my gewag. In geradbraakte Engels het hulle dit duidelik gemaak dat ek onder arres was. Waar hulle taalvaardighede ontbreek het, het hulle oorvloedig met hardhandigheid aangevul. Binne ‘n oogwink was ek in boeie. Oppad na die hysbak het hulle my eenkeer hard genoeg gestamp dat my lyf te vinnig vir my voete geraak het, en ek neergesloeg het.

Die volgende twee weke het ek op ‘n sement vloer geslaap, koue rys en water geëet en in ‘n gat in die vloer gepis. Daar was ook nie iets soos een telefoonoproep nie. Elke keer wat ek die sleutel in my sel se slot gehoor het, het my hoop opgevlam dat Stephan my uiteindelik kom haal het. Dit het nie gebeur nie. Ek het verniet by die wagte probeer uitvind of hy ook in die tronk was. Terwyl ek dae en ure omgelê het op die koue vloer, het ek probeer onthou hoe die ou in die fliek Paradise Lost dit reggekry het om in verbinding met sy familie te tree. Ek kon nie. Daardie fliek was op ‘n ware verhaal gebaseer. Dit het alles te bekend begin lyk.

Die hofsaak het nie baie lank gevat nie. Ek kon bykans niks verstaan nie. Die aanklag is in Engels uitgelees. Ek is beskuldig daarvan dat ek in besit van ‘n groot genoeg hoeveelheid dagga was, om van dwelhandel aangekla te word. Nugter alleen weet waar hulle die slaapsak vandaan gekry het, en hoe hulle besluit het dis myne. Dit is egter as bewysstuk ingedien, en toe die beampte dit ooprol val daar twee bankies op die hof se vloer. Ek is nie gevra om te pleit nie. Ek dink nie dit sou veel verskil gemaak het nie.

Ek wonder nou nog wat gebeur het. Ek is vreesbevange. Met die swart lapsak oor my kop kan ek niks sien nie. Die mense om my praat ‘n taal waarvan ek nie ‘n woord verstaan nie. Iemand verstel die tou sodat dit net bo my adamsappel teen my onderkaak druk. Dit voel asof ek gaan kots. My maag brand. Ek sluk droog en die tou druk ongemaklik teen my keel. Ek hoor hoe skoene wegskarrel oor die houtvloer. Dan is dit stil. Dit voel asof my hart gaan staan het en my kop wil ontplof. Ek hoor die bloed suis in my ore. Iets in my probeer my steeds oortuig dat dit nie regtig gebeur nie. Maar ek weet. Na wat gelyktydig soos ‘n ewigheid en ‘n breukdeel van ‘n sekonde voel, is daar ‘n klapgeluid. Die wêreld gee pad onder my voete en ek val…

*

Stephan sluit die slot aan sy rugsak en gooi dit oor sy skouer. Hy stap uit in die gang en wag vir die hysbak. Hy kan nog steeds nie glo wat sy vriend gedoen het nie. Toe hy die eerste aand verdwyn by die kroeg, het Stephan gedink hy kon maar net nie meer sy lus hou nie. Hy het verwag om hom saam met ‘n meisie in die bed te kry, toe hy ure later self met een daar aankom. Daar was egter geen teken van hom of ‘n meisie nie. Net so min was daar enige teken van Stephan se slaapsak.

Stephan kan verstaan as hy die inhoud van die slaapsak wou vaslê. Hoe hy egter uitgevind het daarvan en waarom hy sy eie sak met al sy klere daar gelos het, gaan sy verstand te bowe. Stephan het ook gedink hy ken hom goed genoeg om te weet dat hy nie zol rook nie. Wys jou maar net. Pogings om uit te vind of sy vriend oraait was het niks opgelewer nie. Die owerhede was glad nie behulpsaam nie. Die taalprobleem het dinge ook nie vergemaklik nie. Tien teen een het hy saam met die klein hoer iewers op die slaapsak gaan lê en lekker hoog geraak op hy wat Stephan is se stash. Daarna het hy natuurlik te skaam gevoel om terug te kom. Sal hom waarskynlik nou-nou by die lughawe kry. Of dalk was dit so lekker dat hy besluit het om agter te bly.

© Chris Smal – 4 Julie 2005