|
DIE NUWE WỄRELD
is chaos. Die
water is oral. Ek kon altyd goed swem, maar iets het fout gegaan.
Die oseaan wat tot onlangs so kalm was is nou erg onstuimig. Dis
ook asof daar ‘n maalkolk ontstaan het. Dit suig my genadeloos
na die onderkant van die spelonk. ‘n Oorweldigende krag in my sê
vir my ek moet hier uitkom.
Ten spyte van die onafwendbare gevoel is ek nie heeltemal lus om
te gaan nie. Hierdie plek was ‘n veilige hawe. Ek het niks
ontbreek nie. Die temperatuur was altyd net reg. Daar was meer
as genoeg kos en ek was so veilig soos ‘n maagd in ‘n klooster.
Die nare draai in die weer laat my egter met net een keuse.
Ek was so lank hier dat ek nie lekker weet waar die uitgang is
nie. Dis boonop pikdonker. Die genadelose krag van die water
besluit vir my. Met ‘n skok besef ek dat my longe vol water is.
Ek probeer inasem, maar maak dit net erger. Om sake verder te
vererger begin dit nou voel asof die wande van die grot besig is
om die ruimte hier binne al hoe kleiner te maak.
Ek hou op spartel en laat die natuurlike kragte toe om my mee te
sleur. Dit is bonatuurlik geweldadig. Ek proe en ruik bloed. Die
water trek my in ‘n tonnel in. Dis heeltemal te klein vir my en
maak my verskriklik benoud. Ek gaan verseker sterf. Ek kan nie
asemhaal nie en gaan vergruis word in die beperkte ruimte.
Net toe ek oortuig raak dat dit alles verby is, gaan die deure
oop en ek stap ‘n nuwe land binne. Ek knip my oë verward om die
bloed en water daaruit te kry. Daar is mense oral. Hulle gesigte
oorweldig my. Ek kan nog steeds nie asem haal nie. Dan word my
voete onder my uitgepluk. Asof dit nie genoeg is nie, begin die
houe reën op my rug.
Ek berei my voor om die tydelike met die ewige te verwissel.
Skielik spuit die mengsel uit my longe en deur my mond en neus.
Ek is so verlig dat ek onwillekeurig uit volle bors begin huil.
Tussen my snikke hoor ek iemand sê, “Veels geluk Mevrou Smal,
dis ‘n seun!”
© Chris Smal –
17 November 2005
|