ACCESS DENIED
|
oo bee doo happy
Do you know I am?
happy” |
Die ruitveërs spartel teen die
eerste somerreëns. Die honde hyg en proes agter in die
Discovery. Fok, ek raak soms so geirreteerd met hulle. Nes
kinders, dalk net erger want hulle wil steeds gaan stap, al
donder en stort reën dit buite. Geen sense of danger…
Die eerste reën vir die somer is laat en broodnodig. Die
skielike vog wasem die vensters toe en ek sit die lugversorging
aan. Swart teerpad blink luislang voor my uit, die bande sjoep
sjoep deur vars plasse welkome reën. Die voorruit ontwasem en in
die ooste flits die eerste reën storm totsiens.
Ek rol die sondak oop en asem die vars osoonbelaaide lug in.
Laaste reëndruppels tref my gesig en ek wonder hoekom kom trane
nie maklik nie. Oor die luidsprekers sing Chris Rea half nasaal
en ietwat snedig:
“Doo bee doo happy
Do you know I am?
Happy?”
Ek grynslag vir myself en draai links by die BP in. ‘n 2 liter
halfroom melk, volgraan brood en Mail and Guardian. Die honde
hyg nog meer. Fok. Ek is soms lus en spuit hulle vol formalien.
Outomaties draai ek by die skoolgrond in, stop en maak die
agterdeur oop. Die honde spat na buite en hol al snuifende oor
die veld. Snuif snuif en pis teen elke ding wat lank genoeg
stilstaan. Ek proe die eerste reën op my tong en ruik die nat
veld. Dink aan Desember skoolvakansies en kinderdae op die plaas.
Die knaende droogtes, ma en pa wat stomgeslaan in die ko
mbuis sit en somme beraam want
die jaar het die bidure en roep na God vir reën net nog harder
sonskyn gebring. Die kuilvoer is op en die trekkers worstel deur
die kliphard gebakte grond om iets te plant.
“Ja nee” sę oom Piet Smit toe hy sy uitmekaar Peugeot bakkie
deur toeklap “die Here stuur nie vir die Hervormders reent nie.
Fok ou Sakkie, waarheen gaan ek op my ouderdom?” Hy lig sy hoed
in ‘n groet en die bakkie skommel rokend by die werf uit in die
rigting van Oplet. Pa byt op sy vingers en ek wonder hoekom kom
trane nie maklik nie.
“Doo bee doo happy
Do you know I am?
Happy?”
Skeef skeef lok die kiewiete die honde weg van die natgereënde
eiertjies. Die wit wol sterte is pylreguit en hulle fokus net op
reuke en pis. Watter eiertjies sal hulle aandag trek wonder ek?
Ek leen teen die Discovery, kyk na die honde en kou aan my
vingers. Die eerste keer in jare. ‘n Totsiens groet van die son
weerkaats ligpienk teen die rykmanshuise op Pierneefrif.
Donkerblou wolke oor Cullinan word silwer verlig as die Here
elke nou en dan fotos van die mensdom neem. PUTCO busse ratel en
dreun teen die wind oor die brug in Frates Weg. Moë swart mense
dink dankbaar aan die naweek wat voorlę en hou hulle
plastieksakke vol inkopies styf vas. ‘n Medi-clinic ambulans met
helder rooi ligte skiet deur die verkeer oppad na ‘n onbekende
bestemming.
Harde duiwelkop doringtjie steek in my voete en ek vloek
weereens hardop. Fok. Dit kom so eenvoudig en vinnig. Rol oor
die tong. Fok. Ek wonder weer hoekom kom trane nie maklik nie.
Die trekker drywer roep “Baas, die oubaas hy het seergekry”. Ons
spring in die blou Ford F100 bakkie en my pa jaag oor die
droewige droë sandpad na Oplet. Die geel Peugeot staan skeef in
die wenakker. Rondom dit lę al uitgeteerde frieskoeie in poele
rooi. Elkeen verlos met ‘n skoot deur die kop. Oom Piet sit
gemaklik agter die stuur. Hoed en pyp gestop met rum and maple
op die dashboard. Rooi loop oor sy gesig en nek en check-hemp en
die 303 rus in sy mond. Ek kyk na my pa, hy kou sy vingers en ek
wonder hoekom kom trane nie maklik nie.
“Doo bee doo happy
Do you know I am?
Happy?”
Op ‘n bloedig warm Woensdag middag sak oom Piet in sy swart suit
af na sy laaste aardse rusplek. Dominies Pretorius lees uit
Psalm 23. “Die Heer is my Herder, niks sal my ontbreek nie. Hy
laat my neerlę in groen weivelde; na waters waar rus is lei Hy
my heen”. “Ek hoop dit reent ten minste in die Hemel” sę pa en
ma huil sag. Die vaalgeel Fiat bulldozer stoot ma se uitgeteerde
stoet frieskoei karkasse in die nuutgegrouwde gat in. Pa gooi ‘n
kan petrol oor die benerige wit en swart lywe uit. Ma byt haar
vingers en pa sit sy arm om haar skouers toe die helder rooi
vlamme die dor lug inskiet. Ek wonder hoekom kom trane nie
maklik nie.
Ek laai die Labradors by my huis af en stap ondertoe. Daar is al
die ligte af en dis verbasend stil toe ek oopsluit. Net die twee
worsies waai stert toe hulle my sien. Op die studeertafel lę ‘n
cd. Al wat daarop geskryf staan is is sy naam. Ek druk dit in my
rekenaar en maak die foto dokument oop. ‘n Koerant uitknipsel
met ‘n flenters vergruisde wit Hilux bakkie in ‘n poel rooi
erens oppad in Suidwes en drie hopies liggame met komberse
toegegooi.
In haar slaap kou sy haar vingers. Ek soen haar saggies op die
voorkop en wonder hoekom kom trane nie maklik nie.
“Doo bee doo
happy
Do you know I am?
Happy?”
© Cecil Barnard –
27 November 2005
|