|
DIE FINALE KOEBAAI
it
is half vier op ‘n koue wintersoggend. Dekker staar slaperig na
die oop gordyne in sy kantoor. Iets lyk verkeerd. Hy kyk na die
lessenaar by die venster en let op dat dit ongewoon leeg is. Het
hy nie onder andere sy duur kamera daar gelos nie? Geleidelik
raak hy bewus van ‘n mensreuk; ‘n reuk van ongewastheid gemeng
met goedkoop bier. Dan kom ‘n ongenooide hand voel-voel deur die
venster. Dekker voel ‘n koue rilling soos sy denkende brein
verbete deur komberse van alfa-golwe veg. ‘Vok!’ vloek hy hardop
en storm na die voordeur. Hy pluk dit oop en gewaar ‘n donker
gedaante snel vir die muur. Die gedaante misgis homself met die
terrein en val met ‘n harde slag op die grond.
Dekker volg en is binne oomblikke by die indringer, wat pynlik
stadig regop kom. ‘Jou bliksem!’ sê Dekker half vir homself soos
hy ‘n vuishou in die donkerte probeer land. Sy vuis skram van
iets hards af, moontlik ‘n voorkop. Dekker slaan weer en land op
iets sagters, wat nattig meegee. ‘n Dof kreet getuig dat hy sy
merk gevind het. Voordat hy nog ‘n hou kan plant, duik die
gedaante met sy skouer in hom in en hy verloor sy balans. Ag
nee. Sy simpel pantoffels gly op die gruis en hy land op sy rug.
Die gedaante land bo-op hom, en Dekker beskou vir kort oomblikke
‘n geëtsde, bloederige en sweterige gesig wat wild na hom staar.
Die vuil bierreuk is oorweldigend. Dan glimlag die gesig en
plant ‘n paar harde houe in sy maag, spring op en verdwyn in die
duister.
Dekker is wind-uit. Swaar staan hy op en probeer om sy asem
terug te kry. Al waaraan hy kan dink is dat sy duur kamera nou
weg is. Verbaas dwaal sy oë dan na die verweerde hef wat uit sy
maag groei, en hy voel iets warms teen sy bene afloop. G’n
wonder hy is wind-uit nie! Dekker loop stadig en moeilik terug
teen die paadjie op; na die voordeur. Hy het iewers gelees dat
‘n mens nie die mes moet uittrek nie, want dan bloei dit net
erger. Hy kyk weer na die geniepsige ding in sy maag. Dit raak
nou seer. Hy leun teen ‘n pilaar en hyg na asem, en die koue
naglug omhels hom ongevraagd. Hy voel duiselig en naar. Hy gaan
sit. Wat help dit alles? Verwag hy regtig dat ‘n ambulans gaan
kom voor dit te laat is? Met ‘n kreun probeer hy gemakliker raak
teen die yskoue pilaar. Dat dit so moet eindig, so minimalisties.
Hy dink aan al die dinge wat hy nog wou vermag het, en al die
dinge wat hy onvoltooid gelos het. Hy dink aan alles wat hy
anders kon gedoen het. Snaaks dat dit nou alles so kristalhelder
is, soos sy tyd krimp in ‘n skoendosie in. Sy mond raak droog en
hy begin onwillekeurig sidder. Hy dink aan sy ex-vrou, en hoe hy
haar nog liefhet. Weet sy dit? Sal sy dit ooit weet? Sal sy hom
onthou soos hy was of hoe sy dink hy nou is? Sal sy hom treur?
Gaan enigiemand hom mis?
Hy probeer kyk na die sekelmaan, maar hy sukkel om te fokus. Hy
soek net een beeld wat hy kan saamvat, dêmmit! Dan beweeg iets
in die buitewyke van sy visie, en hy word weer bewus van die
vuil bierreuk. ‘Nee! Vokkof uit my laaste oomblikke!’ wil hy
skree, maar sy mond is te droog. Hy sien ‘n dowwe figuur na hom
toe loop, oor hom buk, en dan met ‘n pynlike ruk iets uit sy
maag pluk. Die dowwe figuur loop dan verby hom, na die oop,
uitlokkende voordeur. Dekker swets in sy gedagtes. ‘So jy gaan
my nou in elk geval leeg besteel’ , dink hy verslae. Hy voel
warm en koud terselfdertyd en soos hy uit ‘n sittende posisie
omval, is dit orals om hom taai en nat.
Dit is dof.
Die pyn is weg.
Asem in.
Die pyn is terug.
Dit is anders.
Asem uit.
Wit.
Koud.
Swart.
© Etienne Marais –
17 Junie 2005
|