|
DIE HERFSBLARE DIE
VAL OP DIE GROND
ans
was vanoggend laat gewees. Iets wat nog nooit gebeur het sover
hy kan onthou nie. Hy probeer uitpluis wat verkeerd geloop het,
maar hoe meer hy daaroor dink, hoe meer pyn sy kop. Gewoonlik is
Gans douvoordag wakker, met kaal voete oor die koue sementvloer
na die gekraakte wasbak om oggendsidderwater oor sy gesig en lyf
te spat. Dit is op sulke oomblikke wat hy op sy lewendigste voel;
wanneer hy ‘n klariteit van die siel beleef; ‘n reinheid van
gedagte wat dan soos ‘n lekkende band in die dag se warmte
afblaas.
Maar hierdie herfsoggend was anders. Gans leun op sy verweerde
hark en probeer dit uitpluis. Iets wat sy liggaam op staatmaak,
het nie gebeur nie. Dit was reeds seweuur met die son wat hoog
sit toe hy verskrik verdwaas uit ‘n diep slomer uit die bed
gerol het. Hy het nie eers die wasbak besoek nie en slegs sy
oorpak aangepluk en by die deur uitgestrompel. Dit was ‘n uur
gelede. Nou staar hy misnoegd na die herfsblare wat net val en
val. Hy dink weer aan Barney die boelie wat hom sy naam gegee
het, lank gelede. ‘n Naam wat vol humor is, vir ander mense.
Barney het gesê dat hy lag soos ‘n gans, en van daardie dag het
vriend en vyand hom dit genoem. Hy het dit maar aanvaar al het
dit seergemaak, sonder om ooit die selfvertroue te vind om vir
mense te sê dat sy naam Jopie is, dêmmit!
Hy skrik wanneer ‘n wind opsteek en met ‘n geheime geritsel
herfsblare orals om hom strooi. Hy verbeel homself dat die barre
opsigter, Meneer Oelofse, om die hoek gestorm gaan kom en hom
weer op sy rowwe manier gaan uittrap. Meneer Oelofse dink dat hy
wat Gans is, stadig is. Stadig van brein en wil. Hy laat Gans
altyd goed weet dat hierdie joppie net aan hom gegee is as ‘n
guns, omdat hy vertraagd is. Maar Gans weet ‘n paar dingetjies
van Meneer Oelofse ook. Meneer Oelofse loer deur vensters met ‘n
hand wat in sy broek wikkel. Dit is snaaks en die eerste keer
toe Gans dit waargeneem het, het hy hardop gelag. Dit het Meneer
Oelofse bloedrooi van woede gemaak en daardie dag het hy ‘n paar
stampe uitgedeel. Daarna het Gans hom nog ‘n paar keer gesien,
maar het nie weer gelag nie, net gewonder.
Al die areas wat hy alreeds skoon gehark het is nou weer bedek
met rooibruin herfsblare. Soos hy met ‘n steun sy hark optel om
verder die blare op onbenullige hopies te verplaas, word Gans
bewus van die stilte. Dis net die wind en die blare. Geen
voëlgesang, geen mensstemme. Hy besef opeens dat dit die stilte
was wat hom laat verslaap het. Onseker hark hy verder. Hy voel
soos die keer toe hy verdwaal het op pad na ‘n dokter toe;
alleen en verlate.
Hy stop. Die wind het bytend geword en daar is ‘n vreemde
skynsel in die bewolkte lug.
Gans sidder en plaas sy hark versigtig teen ‘n muur soos
herfsblare deur ‘n dwarswind in die lug gegooi word. Orals
dwarrel blare soos rooibruin demone in ‘n oseaan van droë
ritseling. Die blare fluister onbekende geheime vir hom, waarsku
hom. Iets kom! Iets kom nader! Vlug!
Gans gil terug: waarheen? Wat kom nader? Die blare se fluister
het in ‘n crescendo van vrees verander. Hardloop! Hardloop weg!
Gans begin hardloop, deur leë strate, verby verlate wonings wat
hom stil beskou, om motors wat op plekke sommer in die middel
van die pad staan, sonder om te weet waarheen of waarom. Hy
hardloop nog steeds as die gerammel van ‘n duisend dromme sy ore
toeslaan en ‘n rukwind hom in die lug gooi en teen ‘n
verkrummelende heining smyt.
Hy sou nooit weet wat die blare probeer vertel het nie. Van die
verdoemende nuus wat laataand versprei is. Van vlugtende figure
in die nag, nie een wat aan hom gedink het nie. Van die
katastrofe wat van die hemele nou op sy kop neerdaal nie.
Gans was nog altyd ‘n alleenloper.
© Etienne Marais –
9 Maart 2006
|