About the Author:
Etienne Marais
Etienne Marais

Place of Birth: Germiston
Date of Birth: 13/01/1964
 

Other Literary works:

Afrikaans:
Die Finale Koebaai
Doemprofeet
Die Herfsblare Val op die Grond
In die Skare Verdwyn
Om te Tower
Word Wakker!

English:
A Good Day to Die
Heart Like a Hotel
 Is Anybody Out There?



OM TE TOWER
(in ses dele)

Deel Een
'n Netelige Probleem

ormaalweg sou Diktoshe (‘n middeljarige tokkelos) die dalende en doodbloeiende Zululand son gretiglik dopgehou het, met sy kort senigerige postuur opgebondel in ‘n styfgespande snaar van wriemelende ongeduld en afwagting op ‘n aand se amok en gille. Skemer was die eerste tentatiewe uitnodiging na so ‘n aand van donker plesiere – soos net ‘n tokkelos van vernaam kan ervaar.

Maar Diktoshe was geïrriteerd, en brommend so. Sy alleenstaande, bloedbelope oog kyk ongelukkig na die son wat liefde maak met die horison terwyl sy eenvoudige, maar slinkse breinsisteem wonder oor die penarie wat nou sy eie geword het. Vir hom was daar ‘n duidelike verskil tussen wat vir hom bestem was - en wat vanaand vir hom in die donkerte wag.

Hy kners sy lang slagtande senuagtig. Wat is die antwoord? ‘n Tokkelos is nie gebou vir probleemoplossing nie. ‘n Tokkelos is van oertyd gebou net vir een ding: om wanorde en vrees te saai; om die arrogante mensdom so dan-en-wan te herinner dat hy nie die alleenheerser van sy omgewing is nie. Nou sit hy (‘n suksesvolle tokkelos van omtrent 320 jaar) onder die juk van ‘n ander wese se wense.

Met ‘n trillende skreeu skop Diktoshe na ‘n kluit wat tussen die lang gras lê en skud sy bos liggaamshare iesiegrimmiglik. ‘n Paar verbaasde vlooie vind hulself skielik sonder huis of heenkoms.

Deel Twee
Die Inyana

Die storie is as volg – Diktoshe was besig om ‘n veel-benodigde snorkie langs die rivier te vang toe ‘n hawelose Inyana sy onsigbaarheidsklippie vasgelê het. Gewoonlik sou Diktoshe die kosbare klippie in sy mond gehou het, sonder enige gevaar dat iemand tussen sy vlymskerp tande sou voel daarvoor. Hierdie betrokke dag het Diktoshe egter ‘n bietjie naar gevoel (seker ook een van die Inyana se skelm kunsies) en die klippie langs hom geplaas, om die naargeid weg te slaap. Dit is toe dat hierdie immorele Inyana vir Diktoshe (toe hy wakkerword) met ‘n horingoud, maar effektiewe towerkunsie gebind het aan sy eie heenkoms. Hy het ook die klippie gyselaar geneem.

Die Inyana het afgryslik gelyk, op sy eie manier. Hy was eens op 'n tyd seker 'n aantreklike man, maar nou was hy lelik geskend, met groot happe uit sy liggaam. Enige gewone persoon sou seer sekerlik beswyk het van die wonde, maar die Inyana was ‘n meester van towerkuns en het gepraat met die ou geeste.

Hoe Diktoshe ookal sy pote gestamp het en sy afgryslike tande geklap het, kon hy die Inyana nie kry om sy klippie terug te gee nie. Nog boonop het die Inyana die vreemde en onplesierige gewoonte gehad om in gekoppelde rym te praat (hoe verwaand kan iemand wees?) en het Diktoshe se bevele as volg uiteengesit:

Met stomp hout en krom kierie
het ek geval voor ‘n lelike Hai-Uri.
Helaas! My manlike skoonheid is finaal verlore
maar tog is daar iets meer vir my beskore.
As die kwaai broeder van die donkermaan
is jy die berugte skrik van die aand.
So nou vat ek jou, my tandvolle vriend
as die kneg wat my donker doelwitte sal dien.


Diktoshe het min daarvan verstaan en basies niks gevoel vir sy martelaar se litirêre vermoeëns nie - al wat sy verslane brein kon uitpluis was dat hy, ‘n 320-jarige tokkelos, in skaamte tot slawerny verdoem was. Die heel ergste van die situasie was dat die Inyana hom wou gebruik om romantiese! ambisies te bevredig. Al wat Diktoshe van romanse verstaan het, was dat dit onlogiese en ongesonde drange tussen twee wesens opwek. Hy het al vele bangmaakstories gehoor van die siektes wat DIT veroorsaak. Nou is hy wat Diktoshe die tokkelos is, gebonde om hierdie onheilige liefdespel aan te hits.

‘n Tikkie selfbejammering kruip binne sy hart in soos ‘n geslane hond en voor hy homself kon kry prewel hy filosofies “tho ith my lot” (tokkelosse lispel) en vou diepdenkend sy lang, vuil baard om een geniepsige klou.

Deel Drie
Heimlike Thandi

Thandi was sy genaamd en sy was baie mooi, net soos haar naam. Met ‘n kalbas op haar kop, loop sy met swaaiende heupe verby die knetterende aandvure en glimlag gemoedelik na die jong mans wat haar naam uitroep. Bewus van haar eie aantreklikheid, is sy tog teruggetrokke. ‘n Tikkie treurigheid is versteek in haar sagte bruin oë, ‘n geheimpie wat haar verhoed om by die jong mans te gaan sit.

Een van die jong mans breek weg van die vuur en kom skamerig nader. ‘Thandi, …kan ek jou help dra?’ vra hy ongemaklik.
Sy kyk vriendelik, maar effens bejammerend na die goedgeboude man voor haar. ‘Nee, Siphiwe. Maar dankie.’ Sy draai om en begin om weg te loop.
‘As jy ooit … um … my hulp nodig het dan is ek daar. E-ek bedoel jy kan altyd vir my vra,’ mompel hy verbrouereerd agterna.
‘Dankie Siphiwe,’ sê sy en flits ‘n wit glimlag.
Party van die mans om die vuur begin hom koggel wanneer hy verleë terugkeer na sy makkers.

Thandi sug diep as sy die kalbas by die hut neersit en dink aan ‘n verlore liefde, ‘n man so baie soos Siphiwe. Sy dink aan die lekker tye, maar geleidelik ook aan die donker tye.

Sy het uitgevind dat haar verlore sielsgenoot besig was om te eksperimenteer met die towerkunsies van lang vergete geeste. Hy het geleidelik met ‘n ver en koue blik na haar gestaar, en het haar bekommerde vrae nie beantwoord nie. Hy het wel vir haar genoem dat die geeste met hom praat. Eendag het hy net weggestap deur die lang gras, en nooit weer teruggekom nie. Sy het met 'n gebroke hart vir hom gewag, maar het uiteindelik gehoop dat hy dood was. Dit was makliker om te aanvaar as dat hy haar eenvoudig weggegooi het.

So jong aantreklike mans is net daar vir teleurstelling en pyn, het sy besluit. Haar sagte hart sou nie weer sulke lyding kon oorleef het nie. Maar tog…. Sy dink weer aan die skaam Siphiwe en klim op haar katelbed; verhewe op bakstene. En sy glimlag.

Deel Vier
Husse met Lang Tande

Diktoshe kyk misnoegd na die perfek-gevormde voet wat van die hoë katelbed afhang. Hoe graag wil hy nie ‘n hap daarvan vat nie. Dom mense! Hulle doen al die moeite om bakstene onder die bedpote te pak en dan laat hulle liggaamsdele afdrapeer op ‘n warm somersaand. Diktoshe sluk die honger speeksel terug wat skielik in sy mond opgebou het. Hy mag nie! Hy mag nie! Hy gee homself ‘n seer klap teen die kop met een klou. Die Inyana het uitdruklik gesê dat hy moet streel, nie byt nie. Huiwerend steek hy ‘n klou uit en raak aan die voet. Dis warm, byna soos - ‘n wegneemete. Hy gee homself nog ‘n klap teen die kop.

Hy steek weer sy klou uit en begin krapperig die voet te streel. Thandi sug gemoedlik in haar diepe slaap, ‘n slaap van monsters en helde. Uiteindelik registreer iets in haar brein en sy kom slaperig orent. Sy kyk eers verdwaas na die leë kamer totdat haar oë afdwaal na die harige dwerg aan haar voetenent, wat nou effens verbrouereerd haar voet vashou.

Skok en die vrees slaan Thandi se wind uit. Sy spring ‘n oomblik later gillend bo-op die bed en staan bibberend net buite die bereik van die tokkelos. Diktoshe probeer naarstiglik die rympie onthou wat die Inyana vir hom oor en oor laat sê het, maar sy primitiewe brein word geleidelik oorheers deur ‘n diep passie om te byt. Hy begin aan die komberse trek sodat sy weer binne bereik kan kom, sodat hy weer kan streel, of miskien net ‘n vinnige happie vat. Thandi se gille wek instink en opwinding in hom aan, en sy tande begin gretiglik klap in afwagting. Sy verloor byna haar balans wanneer Diktoshe die komberse ‘n harde pluk gee - en byna het hy haar.

Sy oog nou skitterblink met lustigheid, gryp hy na haar. Gryp! Gryp!

Dan bars die deur oop en ‘n jong, sterkgeboude man staan daar met afgryse in sy oë. Diktoshe swaai om en grom onplesierig vir die indringer. Dit is totdat ‘n knuppel hom pynlik teen die kant van die kop tref. Instinktiewelik koes hy vir die tweede hou, duik tussen die indringer se bene deur en skarrel na lang gras en oop spasies.

Deel Vyf
Siphiwe en Thandi

Siphiwe kyk verstard na die harige gedrog wat binne ‘n oogwenk tussen die lang gras verdwyn. Sy gespierde lyf slaan uit met ongekende koue sweet. ‘Thandi…,’ is al wat uit sy krytdroog mond kan kom. Sy kom staan agter hom en sit haar hand bewerig op sy gebalde vuis wat die knuppel nog omhoog hou. ‘Siphiwe…’, fluister sy. Saam staar hulle na die plek waar die gedierte verdwyn het; waar die lang gras stadig in die aandbriesie wuif.

Sy omhels hom uiteindlik van agter, onseker. Hy voel haar puntige borste teen sy rug en word onweerstaanlik bewus van die ryp koringgeur wat van haar sagte liggaam af kom. Hy draai om en raak met ‘n skamerige hand aan haar gladde vel. Haar pragtige bruin oë kyk na hom met ‘n oeroue vraagteken. ‘Thandi….,’ prewel hy weereens. Sy bring haar lippe na syne, en ewen eens is die aand opwindend, skrikwekkend en onvoorspelbaar alles op eens.

Deel Ses
Om Onsigbaar te Wees

Die Inyana sit rustig by die maanlig-gewaste rivieroewer en kou ‘n suikerriet toe Diktoshe grommend deur die klei op hom afstorm. Beseffend dat die tokkelos nog steeds ‘n wilde wese is, hoeookal betower, uiter die Inyana ‘n vinnige beherende towerversie:

Ongekunstelde modder
Ongetemde broeder
Die haat wat jy delf
vat dit op jouself.


‘n Onsigbare hand tel Diktoshe op en gooi hom op sy agterstewe in taai, onwelriekende riviermodder. Met 'n verwoeste kreet en klappende tande spring hy op net om weer geweldadiglik op dieselfde plek te beland. Die Inyana skud sy kop op ‘n hoogs meerderwarige manier en rym prekerig verder.

Weet, voordat jy die oorwinning vier:
jy is nog steeds maar net ‘n dom nagdier,
geworpen van ‘n brutale werpsel.
Jy is totaal myne, jou eenvoudige skepsel!

Om die punt te bewys haal die Inyana ‘n gladde klippie uit sy kantsak en tol dit vermakerig tussen duim en wysvinger. Die tokkelos skud kwaai die modder uit sy lang, stekerige hare.
‘Jou plan ith dom,’ gil hy dan skril met ‘n kenmerkende lispel.
‘Geen vrou thal met my praat nie, nog minder luithter na ‘n thtorie van ‘n patetiethe Inyana met hartthiekte nie. Ek het byna my kop oopgthlaan gehad vanaand ath gevolg van jou!’
Die Inyana kyk half verbaas en effens seergemaak na die tokkelos.

My plan is nie dom,
sy SAL na my kom.
Maar jy moet ‘n monster wees -
haar passie sal kom uit vrees.
Tot en met ek my oë lê op Thandi,
sê maar totsiens vir jou ou klippie.


‘Tho ek moet ‘n monthter wees? Maar jy het vir my vroeër duidelik gethê dat ek nie moet…’
Diktoshe maak nie die sin klaar nie en gooi sy kloue in die lug uit frustrasie. Die Inyana se verwronge logika is te veel vir sy tokkelos-brein. Hy trek ontroosbaar aan sy baard en staar treurig na die volmaan wat hoog in die lug hang. Dan gewaar hy die vreemdste verskynsel.

Al-springende oor die bosse kom ‘n aardige gedierte wat selfs vir ‘n geharde veteraan soos Diktoshe onstel. Een linkerarm, een linkerbeen, een linkeroog – alles is daar net een van. En van al die kwyl wat uit die ding se half-bek waai lyk dit asof dit ‘n taamlike aptyt aan boord het. Wanneer die Inyana omdraai om te sien waarna Diktoshe so stip staar, word sy geskende gesig wasbleek en hy begin agteruit te steier.

Diktoshe! Goeie bliksem, dis die Hai-Uri!
Hy’s ‘n kannibaal.
Eintlik - hy sal enigiets eet.
Ek beveel jou om hom aan te val!!


Met ‘n sekere tevredenheid let Diktoshe op dat die Inyana ophou rym het. ‘Meethter, ek thal doen wat jy vra, maar hoe kan ek hom verthlaan thonder my grootthte wapen?’ vra hy slinks.
Die Inyana antwoord nie eers nie, hy gooi net ‘n gladde klippie na Diktoshe se kant toe terwyl sy oë vasgenael op die vinnig-naderende gedaante bly. Gretiglik glip Diktoshe die klippie binne sy mond en word onsigbaar.

Vat hom, Diktoshe!
Jy word my vriend vir ewig…


Diktoshe kyk onsigbaar smalend na die vreesbevange Inyana.
‘Tokkelothe het nie vriende nie,’ lieg hy.

En met daardie woorde verlaat Diktoshe die verdoemde Inyana en drafstap na die ou miersvretergat wat hy sy tuiste noem. Soos hy inkruip langs die sissende likkewaan wat die gat met hom deel, voel hy ‘n eienaardige begeerte om die reptiel te soen. Maar nou ja, tokkelosse doen nie sulke dinge nie en die sensasie was tot sy verligting redelik kortstondig. Hy het wel styf teen die likkewaan gaan lê en met die klippie veilig in sy mond, sy enkele oog tevrede gesluit. En daardie aand het Diktoshe die tokkelos gedroom soos nog nooit tevore nie, altans nie vir die afgelope 200 jaar nie.

Nie eers ‘n verbygaande skellende heks op ‘n bobbejaan se rug, kon sy soet slaap versteur nie.

© Etienne Marais – 4 Julie 2005