|
IN DIE SKARE
VERDWYN
y
het hard probeer om in te pas, om soos die maalkolk om hom half
doelloos te beweeg na die veraf geboutjie wat in die genadelose
son bak. Die klere wat aan hom gegee was het ongemaklik groot
aan sy lyf gesit, en sy tweedehandse skoene het gaperig aan die
rooi stof gesluk. Vrees maak hom geduldig; meer geduldig as wat
hy ooit aan homself sou toeskryf. Hy staan al vyf ure in die lyn,
wat pynlik stadig na die wit gebou in die verte beweeg. Geeneen
praat nie en daar is ‘n algemene teneergedruktheid wat in die
lug hang.
Hy trek onwillekeurig sy verslonsde hoed verder af wanneer ‘n
vrou met hangtiete stip na hom begin staar. Hy loer bangerig na
haar: die littekens om haar lippe, die hardheid in haar oë. Sy
snuif onplesierig en kyk weldrae weg. Hy slaak ‘n stille sug van
verligting terwyl hy ‘n paar persone tussen hom en haar sit.
Daar is geen haas nie, herinner hy homself. Versigtig is die
wagwoord. ‘n Brommer kom land in sy week-oue baard en drink
gulsiglik van die oasis sweet wat daarin opgebou het. Hy voel
hoe die vuilgeid van sy voorkoms stadig na binne sink. Wat is
die doel van alles? Waarom is hy hier? Hoe het dinge so verkeerd
geloop? Die vrae hardloop vlietend deur sy gemoed, sonder
antwoord.
Dit is ‘n paar uur later voordat hy naby genoeg is om die
geuniformde figure te bespeur wat die lyn beheer. Hy kyk met
angs na hulle hardhandigheid, hulle ongenaakbare agterdog. Semi-outomatiese
gewere hang arrogant aan hul heupe, soos hulle een na die ander
in die wit gebou stoot. Sy keel voel ongelooflik droog en hy
sluk pynlik. Hy is amper daar…nog net ‘n rukkie. Hy probeer sy
gedagtes te kalmeer deur te kyk na ‘n miskruier wat sy
onwelriekende prys trots langs die lyn afbeweeg. Twee weke terug
was hy ‘n miskruier, dink hy, en sy prys was so welriekend. Net
soos die miskruier, het hy blindelings voortgeploeter met ‘n
ongevonde sekerheid. Hy verstaan uiteindelik nou die nietigheid
van alles en die selfbeheptheid wat hom gekelder het. Hy besef
dit nou eers, wanneer sy heenkoms nie meer sy eie is nie, waar
die toekoms buite sy beheer is.
‘n Ouerige man word uit die lyn gepluk soos ‘n vrou gillend hom
probeer terugtrek. Harde woorde volg die klank van ‘n geweer wat
oorgehaal word. Die pleitende stem van die ou man hamer op sy
ore. Hy weet wat gaan gebeur. Eens op ‘n tyd het hy daardie man
geken, weet hy met ‘n taamlike sekerheid. ‘n Geweerskoot knal,
eenkeer – tweekeer – driekeer. Hy sien hoe die ou man verkrummel
in ‘n onaangename bondel. Meer mense gil, maar dit stop byna
onmiddelik. Net die klaagliedere van die ou man se wederhelf
breek die stilte. Hy voel naar, maar sluk vinnig aan die
vloeiende angs wat by sy keel wil uitpeul. Wees kalm, probeer hy
oor en oor vir homself sê. Sy dokumente is in orde. Vervaardig
deur die beste van die beste. Daar is geen rede vir paniek nie.
Hy staan uiteindelik voor die oop deur. Die man wat dood uitdeel
kyk hom op en af. Hy gryp hom dan aan die skouer en stoot hom na
die oop deur. Soos hy strompelend in die kantoor inval, sien hy
‘n klerk by ‘n lessenaar, gevleuel met twee gewapende soldate.
Die klerk hou homself besig met papiere vir ‘n paar minute, voor
hy opkyk.
“Please remove your hat,” sê die klerk met ‘n verveelde stem.
Hy haal nederig sy hoed af en staar stip na die grond.
“Papers,” blaf die klerk.
Hy handig verkreukelde dokumente oor, angstiglik. Die klerk kyk
na die papiere en kyk dan na hom, ‘n paar keer. Die stilte
verwurg hom en hy voel hoe die sweet riviere teen sy rug afloop.
Uiteindelik glimlag die klerk en handig die papiere terug. Hy
probeer om sy verligting te delf soos hy gretiglik dit terugvat.
“So you are on your way to South Africa. It seems that your
papers are in order,” sê die klerk soos hy terugleun in sy stoel.
“Y-yes, sir,” mompel hy senuweeagtig terug.
Die klerk glimlag vriendelik na hom.
“Holiday, business?”
“Holiday, sir,” fluister hy nederig terug.
Dan uiter die klerk woorde wat sy siel verys.
“Why would you want to go on holiday, your Excellency? Why,
while your country burns?”
Hy steier terug, wetend dat alles verlore is. Die klerk klap
woedend sy hand op die tafel.
“Why, Mr. Mugabe?”
© Etienne Marais –
11 Augustus 2005
|