|
WORD WAKKER!
it
was ‘n heimlike lentedag met heuninggoue ligstrale wat deur
karige vlieswolkies in die pastelblou lug wink en speel. ‘n Flou
briesie vroetel skamerig deur velde van rypgeel koring en net
die verre roep van ‘n pou beklemtoon die middagstilte. Op ‘n
grasbank lê ‘n oop kombers met ‘n man en ‘n vrou wat daarop
uitgestrek lê. Sy is besig om te dut terwyl hy na haar staar. Hy
is bruingebrand, hemploos met ‘n songebleikte denimbroek. Sy
gesig is hard, maar sy oë verklap teerheid as hy kyk na die vrou
langs hom. Sy is ‘n visie, ‘n onmoontlike skepping van lig en
donker, die rare beeld waarna menige ‘n kunstenaar hunker vir
inspirasie. Hy lig sy hand huiwerig om ‘n verlore haar van haar
skone voorkop weg te vee, en besluit dan daarteen, en besluit
dat dit deel is van die perfeksie.
Hy voel dat sy moet wakker word, maar kan homself nie wegskeur
van die oomblik nie. Word wakker – dink hy sonder dat hy weet of
hy dit wil hê. Die pou het stil geword en die enigste klank is
die ritseling van die briesie deur die koringblare. Die briesie
het ‘n stywe windjie geword en op die horison sien hy donker
wolke saampak. Hy fluister saam met die windjie in ‘n vreemde
taal: ‘Je pense a toi’ (ek dink aan jou) en begin dan ‘n wysie
te neurie van ‘n Oos-Afrika, ‘n wysie wat hul albei hul eie
gemaak het. Sy sluimer dieper in met die deuntjie en glimlag
half. Terwyl hy neurie staar hy onwillekeurig na die horison wat
al hoe donkerder word. ‘n Onrustigheid het by hom posgevat.
Word wakker, sê ‘n stem van iewers. Hy kyk na die slapende vrou
en hou aan met die deuntjie. Hy weet dat sy moet slaap, en dat
dit reg is. Niks moet haar drome versteur nie. Hy weet nie vir
hoe lank hy nog hier by haar sy sal kan wees nie, maar solank hy
is, sal hy dit probeer perfek maak. Word wakker! Die stem in sy
kop is meer opdringerig, maar hy ignoreer dit. Die lug is baie
donkerder en hy weet dat dit byna tyd is. Hy kyk hartsogtelik na
sy slapende liefling en wens dat hy net een keer weer haar oë
kon sien.
Hy weet dat iewers, tussen verwronge metaal en sirenes, daar ‘n
paartjie lë. Hy weet dat hy nie daarna wil terugkeer nie, en dat
sy nooit sal nie. So nou wag hy maar. Vir wat, sal niemand hom
kan sê nie.
© Etienne Marais
– 2 Oktober 2006
|