|
EARLY ONE MORNING
on
beur huiwerend oor die horison om kontinente wakker te maak, hy
loer bang oor die rand asof iemand hom ‘n bloedneus gaan slaan.
Hy wil sy majestieuse ronde kop onder Horison inrol en die lig
vir homself hou – waar dit veilig sal wees.
Maar die aarde draai geduldig en verraai hom onwillekeurig, dit
is tog sy natuur.
Die eerste strale versprei stadig. Hulle vat-vat liggies aan die
hoogste bergtoppe totdat hulle later groot happe verorber uit
die swart nag.
Dan gebeur dit, die krioelende massas begin skarrel en saamspan.
Hul juig triomfantlik oor die laaste opposisie wat met vorige
daglig uitgewis is. Freneties begin hulle chant en die groot
ysterstruktuur wat hul leier laat bou het uitklim. Hulle gaan
God uitdaag: hulle wil die son verwoes. Die enigste hoop op
aarde moet verwyder word want dan het hul God finaal oorwin, dan
sal Hy sien hoe slim en behendig ‘n krioelende massa kan wees.
Dit word warm, maar die massas klim swetend, gly-val oor mekaar
om bo uit te kom, om eerste te wees.
Hulle klim hoër en dit word nog warmer. Stukke vleis word rou
gekook aan die massas se lywe, maar hulle klim onverpoos voort –
vandag gaan hulle God op sy knieë dwing.
Die staal begin warmbuig onder die swaar gewig en smelt
roekeloos in die massas in.
Son knip sy oë, hy’s moeg en wil sak.
Die laaste strale onttrek gedissiplineerd na hul eienaar toe.
Son sug … en verdwyn - hopend dat hy môre gemaklik objektief sy
werk sal kan doen. Dat hy gewoond sal raak aan die
dekonstruktiewe massas.
Hy gaap en vra hardop: “Hoe hou God dit met die mensdom?”
© Sandra Vaughn –
3 Februarie 2005
|